skip to Main Content
5 Stappe Om Mooi Troubeloftes Te Skryf 

“… for better or worse, for richer, for poorer, in sickness and in health, till death do us part.” So mooi soos wat tradisionele troubeloftes is, kies baie paartjies om hul eie troubeloftes te skryf. Liefste BELLA leer jou hoe!

Besluit oor die toon en formaat

Moet dit humoristies, intiem of poëties wees? Gaan julle dit saam skryf of apart? Lank of kort? Dis ’n groot antiklimaks as jou troubeloftes diep en persoonlik is, maar jou verloofde sin is pittig en snaaks. Dit is ’n goeie idee om ’n paar punte neer te skryf wat julle albei as individuele inspirasie kan gebruik.

Beloof iets

Baie paartjies vergeet dat jou troubeloftes in sy eenvoud steeds ’n belofte moet wees. Dis belangrik om nie vas te klou aan clichés nie. Moet ook nie jok nie! Jy is ’n brawe vrou as jy beloof om die res van jou lewe elke aand vir jou man kos te maak. Wees opreg en uniek aan julle verhouding wanneer jy jou troubeloftes skryf.

Kort en kragtig (die troubeloftes, nie die huwelik nie!)

Probeer jou troubeloftes onder twee of drie minute lank hou. Dit forseer jou om te fokus op die belangrikste punte en nie te babbel nie. Daar is niks so vervelig soos ’n trouseremonie waar die paartjie oor en oor dieselfde ding sê op verskillende maniere nie. Jy hoef ook nie elke liewe goeie kwaliteit van jou toekomstige man uit te lig nie, maak nie saak hoe wonderlik hy is nie!

Skryf dit neer

Jy mag dalk trendy en modern wees, maar dis steeds baie lui as jy jou troubeloftes van jou foon af lees. Probeer dit eerder neerskryf op ’n kaartjie en lees dit van daar af. Jou selfoon se battery kan pap wees of selfs lui wanneer jy besig is om daarvan af te lees. As jou troubeloftes neergeskryf word lyk dit mooi vir foto’s én jy kan dit vir ewig hou.

Moenie cringy of kripties wees nie

Pasop vir té veel emosie. Dit kan maklik soetsappig en cringy raak. Jou troubeloftes is ook nie die ideale plek om jou aanstaande te verneder of inside jokes te maak nie. ’n Goeie begryper het net ’n halwe woord nodig, maar jou gaste sal jou nie so goed ken soos jou verloofde nie. Wees duidelik en volledig wanneer jy jou beloftes maak.

 

KREDIET VIR FOTO

  • Fotograaf: Debbie Lourens
  • Dekor & blomme: Kadou
  • Rok: Zanne Couture
  • Hare en Grimering: Missy Make-up
  • Model: Missy
  • Venue: The Styling Shed

 

 

Back To Top
%d bloggers like this: