skip to Main Content
Slaapkamersake: Privaat Of Publiek?

Almal het ’n bestie, en party gelukkige #BELLA’s het sommer ’n hele paar. Met ’n goeie vriendin kan jy oor enigiets praat en raad vra.

Maar is dit okay om jou intieme sekslewe met jou vriendinne te bespreek? Moet dit wat in die slaapkamer gebeur régtig in die slaapkamer bly?

Jou sekslewe is ’n baie persoonlike en intieme onderwerp en baie meisies sal verkies om dit glad nie te bespreek nie. Tog, is daar baie ander wat dit gereeld om koek en tee bespreek. Wanneer jy elke liewe detail van jou sekslewe met een van jou beste vriendinne bespreek, kan jy nie anders as om gerus en bevredig weg te stap nie.

Daar is ook ’n groot verskil tussen ’n gesonde gesprek en doodgewone over-sharing. Wanneer jy in detail begin ingaan oor elke move en moan, kan jy maklik jou vriendin ongemaklik laat voel. Wees ook versigtig om nie jou man te verneder nie. Onthou dat hierdie onderwerp beide kante toe kan gaan. As jy jul sekslewe met jou vriendinne bespreek, het hy die reg om dit met sy vriende ook te bespreek. Dink gerus aan wat jy sou wou hê hy moet vir al sy vriende sê van jou, en gebruik dit as riglyn as jy met jou eie vriendinne gesels.

Wanneer jy en jou vriendinne julle sekslewens bespreek, is dit baie maklik om ook julle sekslewens te vergelyk. Daar is ’n ding soos té veel inligting. Jy wil nie voel asof jou sekslewe té boring of té avontuurlustig is nie. Niemand se sekslewe is egter dieselfde nie, en baie verskillende faktore beïnvloed hoe gereeld en watter soort seks julle het.

Bereik ’n konsensus met jou maat en besluit of julle julle sekslewe gaan bespreek met ander mense en indien wel, hoevéél daarvan. Wees ook versigtig watter vriendinne jy kies om hierdie onderwerp mee te bespreek. Baie mooiweersvriende kan dit as skietgoed gebruik in ’n bakleiery en jy wil definitief nie hê iemand moet daaroor uitpraat nie.

Of jy nou kies om jou slaapkamersake met die wêreld te deel of nie, moet niks met jou vriendinne deel as jy dit nie met jou maat kan deel nie. Dit verbreek die ongeskrewe vertroue wat tussen twee seksmaats behoort te wees.

Back To Top
%d bloggers like this: