skip to Main Content
I Kissed A Girl And I Liked It!

Omtrent almal in die wêreld sal op een of ander tyd oor hulle seksualiteit wonder. Dit maak jou definitief nie gay nie.

Selfs mense wat hulself as gay identifiseer, kry dae waar hulle verwarring oor húlle seksualiteit ervaar. Menslike seksualiteit is kompleks en daar is geensins rigiede swart of wit antwoorde nie. As jy al ooit seksueel nuuskierig gevoel het teenoor dieselfde geslag, sluit aan by die bi-curious klub!

Foto: Shutterstock

Indien jy wonder of jy moontlik in dieselfde geslag belangstel, kyk na die volgende 5 vrae en bepaal waar jy jouself mentally bevind.

Kan jy jouself saam met ʼn persoon van dieselfde geslag sien?

Dis baie belangrik en vanselfsprekend om te besluit of jy in ʼn verhouding met ʼn vrou wíl wees. As dit jou laat ril en té ver buite jou gemaksone laat voel, hoef jy nie sommer verder te wonder nie. As dit wel vir jou aanloklik klink, is jy definitief nuuskierig genoeg om verdere ondersoek in te stel.

Wil jy iemand van dieselfde geslag soen?

Enige verhouding het ook ʼn fisiese aspek. As jy bi-curious voel, moet jy besef soen en selfs ander intieme aktiwiteite, is definitief deel van die pakket. As jy ʼn vrou aantreklik vind, maar die blote gedagte om ʼn vrou te soen is vir jou afstootlik, dan het jy seker ook ʼn goeie idee van wat jy in die lewe wil hê, al dan nie.

Wat is dit wat jy aantreklik vind?

Verliefdheid word nie noodwendig deur seksuele gevoelens veroorsaak nie. Wanneer jy iemand van dieselfde geslag bewonder, kan dit soms só intens voel dat jy jou seksuele oriëntasie bevraagteken. ʼn Mens kan egter aangetrokke tot verskeie mense voel, al is dit nie noodwendig seksueel gedrewe nie. Vra jouself af: is ek verlief op die vrou, soveel so dat ek haar wil soen, óf is dit eerder ʼn geval van bewondering, omdat jy soos sy wil wees?

Foto: Shutterstock

Word jy deur eksterne faktore beïnvloed?

Partykeer bevraagteken, óf ontken ʼn mens iets, omdat die wêreld en die samelewing dit so dikteer. Wanopvattings is algemeen, soos: “Omdat jy ʼn tomboy is, is jy by default gay”, óf “omdat jy rokke, juwele en grimering dra, is jy obviously straight”. Aikona! Moenie dat jou eie voorkoms jou laat glo jy is, óf is nie gay nie. Stereotipering en veralgemening is gesetel in onkunde en wanpersepsies. Die uiterlike is irrelevant en slegs die innerlike vertel werklik die waarheid.

Is vrees die rede agter jou besluit?

Hierdie vraag kan na beide kante geïnterpreteer word. Sommige vroue sal ná onaangename ondervindings met mans, na vroue draai in die hoop om ʼn gesonder verhouding te hê. Dit is egter nie volhoubaar nie, want as jy hetero-behoeftes het, sal jy altyd na ʼn man smag. Daar is ook vroue wat halsoorkop verlief raak op ʼn ander vrou, maar omdat hulle bang is vir oordeel en afkeur deur die samelewing, reageer hulle nooit op daardie gevoelens nie. Vrees mag nooit jou besluite beïnvloed nie.

Troos jouself daaraan

Seksualiteit is kragtig en die energie binne jou liggaam sal al hierdie onsekerhede namens jou uitwerk en jy sal gou genoeg antwoorde op al jou vrae hê. Die geheim is om ten alle tye eerlik met jouself te wees en om na jou hart en jou gevoelens te luister, want jou kop is nie altyd reg nie. Almal is op hulle eie unieke lewensreis, enjoy the ride!

 

Back To Top
%d bloggers like this: