skip to Main Content
Kyk(nou)NET Vir Francois!

Francois van Coke het Suid-Afrika se aandag van sy rebelse rocker dae tot vandag se diepdenkende, familieman vasgevang!

Net wanneer ons dink hierdie rocker kan nie meer homself herontwerp in sy diversiteit van talent nie… wel kykNET! Francois kan nou TV-aanbieder op sy indrukwekkende Curriculum Vitae plaas, want op Maandag, 8 Oktober sal die rocker se eerste uitsending van sy nuwe televisie-program op kykNET uitgesaai word.

Die Van Coke Show is ’n nuwe speletjies- en geselsprogram waar almal kliphard speel om niks te wen nie. Saam met bekendes en komediante gaan Francois die draak steek met al die malligheid wat in die wêreld aangaan. Name soos Cindy Swanepoel (Binnelanders), Jonathan (Radio Raps), Solomon Cupido (Mense Mense), Beer Adriaanse (Hotel, Fynskrif) en Quanita Adams (Sara se geheim) is maar ’n paar bekendes wat saam met Francois gaan skerts!

Die speletjiesprogram is rondom Francois se passies en belangstellings ontwikkel. Wat ’n lekker kans vir Francois-fans om die rocker op so persoonlike manier te leer ken. Die program sluit natuurlik ook ’n musikale element in. Elke week sal spanne teen mekaar meeding in vinnige vraag-en-antwoordsessies en ook lekker skerts oor musiekvideo’s op die internet.

Van sy ou Fokofpolisiekar-kamerade is deel van die nuwe TV-avontuur. Hunter Kennedy en Wynand Myburgh sal agter die skerms saam met  die vervaardiger Liebie Opperman en die regisseur Gerrit Joubert werk om vir die volgende dertien weke die blou uit elke Maandag te haal. #LiefsteBELLA sien uit om saam te lag!

Die Van Coke Show begin Maandag, 8 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:30.

 

Geskryf deur: Melanie Jacobs
Foto: facebook.com/francois.vancoke

Back To Top
%d bloggers like this: