skip to Main Content
Bottomless Inspirasie!

Die musiekduo van Bottomless Coffee Band, Esté en Lourens Rabé, het aanvanklik besluit om ’n album op te neem as dokumentasie van wie en waar hulle op daardie stadium in hulle lewe was.

Moenie dink dat die couple se inspirasie ná vyf jaar van getroude lewe opgedroog het nie. Hul nuutste album Anthelia het onlangs die rakke getref en beloof om by ’n wye gehoor aanklank te vind. Liefste BELLA het by die musiekpaartjie gaan inloer.


Watter liedjie op julle nuwe album lê julle na aan die hart en hoekom?

Lourens en Esté: “Die titelsnit, Anthelia. Gedurende die opname van die album was hierdie spesifieke liedjie vir ons ’n deurbraak vir ’n nuwe vars styl van ballades vir die Bottomless Coffee Band. Dit beklemtoon ons albei se sterkpunte wat musiek aanbetref baie goed en die lirieke gee ons elke keer hoendervleis. Anthelia beteken om engele te kan sien. Ons het dit as volg geïnterpreteer: om die mooi in alles en almal te kan sien.”

 

Terwyl julle aan die album gewerk het, het julle ‘n duidelike prentjie in gedagte gehad?

Lourens en Esté: “Nee, glad nie – al wat ons geweet het, is dat ons iets waarop ons regtig trots is en wat vir óns baie mooi is in die wêreld wil sit.

’n Mens raak ook vinnig opgeskeep met wat op die oomblik die norm in die wêreld is, so ons moes mooi fokus om ’n balans te kon vind tussen dít wat uit ons harte kom, maar tog ook relevant is tot die huidige mark.

Ons het die voorreg gehad om met die baie begaafde vervaardiger Theo Crous te werk wat lewe geblaas het in elke liedjie. Van die liedjies wat ons gedink het vreeslik eenvoudig is, is in studio verwerk en getransformeer tot van ons sterkste snitte. En andersom natuurlik. Dit was dus konstant ’n work in progress.”

 

Waaruit put julle jul inspirasie wanneer dit kom by die skryfproses? 

Esté: “Inspirasie is ’n vreemde konsep – dit kom skielik en ongenooid, op die vreemdste tye. Ek put baie inspirasie uit reis, maar meer spesifiek uit kortstondige interaksies met interessante mense van ’n ander kultuur of met ’n interessante storie. Soms is die oorweldigende skoonheid van die natuur ook ’n katalisator en partykeer het ’n mens skielik ’n oomblik van inspirasie oor ’n koppie koffie in ’n besige omgewing.”

 

Na watter tipe musiek luister julle in jul kar? 

Lourens en Esté: “Ons is baie lief vir ou, outentieke musiek soos Paul Simon, Bruce Springsteen, The Beatles en The Beach Boys. Ons hou ook daarvan om te snuffel wat op die radiostasies aan die gang is. Ironies genoeg verkies ons ook soms om 100% stilte te ervaar in die kar en om so bietjie in ons eie denke te verdwaal!”

 

Indien julle saam met enige internasionale kunstenaar ‘n verhoog kon deel, wie sou dit wees en hoekom? 

Lourens: “Ek is versot op rock ’n roll en ook funk-musiek. Ek het grootgeword as ’n drummer en het van jongs af in verskeie bands dromme gespeel. Jimi Hendrix sou my ultimate wees, maar hy is ongelukkig reeds oorlede. Ek moet seker iemand kies wat nog lewe, nè? Ek weet – Dave Matthews! Ek sou saam met Dave Matthews ’n verhoog wou deel.”

*Bottomless Coffee Band tree 1 en 2 April 2018 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn op, asook 19 April 2018 by die Atterbury Teater in Pretoria. Toerdatums sal binnekort bekendgemaak word.

 

Geskryf deur: Heloïse van Huyssteen

Foto’s: Riehan Bakkes van Bakkes Images

Back To Top
%d bloggers like this: